

#Hy sal bly



Die Nasionale Vrouemonument
Waar kry ons hom? Monumentweg, Bloemfontein. (Oorlogsmuseum)
Waarvoor is die monument opgerig? Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein is op 16 Desember 1913 onthul. Dit is opgerig om die tragedie te gedenk van sowat 26 000 Afrikanervroue en -kinders wat enkele jare tevore in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 gesterf het.
​
Ter illustrasie van die bittere pyn en lyding wat die vroue en kinders in die konsentrasiekampe moes verduur haal ons graag die volgende woorde uit Ds AD Luckhoff (Predikant in die Konsentrasiekamp, Bethulie, Oranjerivierkolonie, 1901) se dagboek aan soos dit verskyn in Die Konsentrasiekamp Gedenkreeks 1 - Bethulie aan:
​
"Woensdag, 25 September - 'n Sterfbed; dit is 'n treurige onderwerp om oor te skryf, en tog waarom dit vermy? Laat ek probeer wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie - 'n beskrywing van 'n sterfbed. Dit is bloot menslik om oor die tragiese sye van die lewe te haas, maar vanaand wil ek daarby stilstaan.
​
Iets het my besiel om ‘n vroeë besoek aan die hospitaal te bring, sodat ek voor ontbyt gegaan het. In die eerste saal het ek reguit na Mita Duvenhage se bed gegaan, en ek het haar in ‘n baie slegte toestand gevind – sy het hard geworstel om asem te kry; sy is so jonk en tog het sy so ‘n bittere lyding!”
​
Vandaar is ek deur mev Van den Berg na die nuwe saal ontbied om gou te kom, aangesien Lenie sterwend was. Ek het gegaan, en toe ek binnekom het ek gesien dat God haar sou wegneem. Laat ek nie probeer om haar engelagtige klein gesiggie van wit marmer, haar mooi gevormde neus, en haar pragtige klein mondjie te beskryf nie! Stil het ons rondom haar bed gekniel – die moeder, verpleegster en ek. Van haar pragtige blou oë het ek niks gesê nie, want hulle was toe – die ooglede wat ‘n bietjie toe, en die ooglede het hard probeer om die sagte gladde wange te soen. “O God, kom help ons! O Verlosser, kom en neem U plek langs haar bed – hou haar hand – neem haar in U tere arms en druk haar aan U boesem! Dra haar, Verlosser, waar U wil, want by U is sy veilig. Troos ons harte en gee dat ons ons hoofde in nederige berusting sal buig – U wil geskied. Amen!”
​
“Lenie, Lenie, Lenie, my kind, jou mammie is hier by jou, en Jesus is ook hier om jou hand te hou – moenie bang wees nie, my kind.” Onder haar moeë ooglede het sy na ons gekyk, en ‘n groot traan het in haar linkeroog gekom. Dit het vir ‘n oomblik soos ‘n diamant geglinster, en toe die besit van die moeder, wat deur sielesmart getref is, geword. Toe was ons stil en het gekyk. Stadig en sag het die ooglede oopgegaan – nou het ons weer in daardie helde blou oë kon kyk. Wyer –wyer – en steeds wyer het hulle oopgegaan – opgehef, ver agter die die kleivorme voor haar. Kyk hoe die pupille vergroot – dit lyk of dit die blou oorweldig! En so bly hulle vir ‘n paar kort oomblikke. Dit was ‘n blyk verby ons na – wat? Sal dit oudmodies wees om te suggereer “Engele” miskien? Totdat ek wyser word sal ek by Engele bly. O die misterie van die onbekende!
En stadig, saggies kom die ooglede weer tot rus – tot werklike rus - want haar gees het gewyk. Vrede, volmaakte vrede!
​
Hoe vlietend vreemd, hoe majestueus in sy eenvoud, hoe raaiselagtig in sy tragiese kalmte – die heengaan van ‘n Siel – die ontkoppeling van Liggaam en Gees! Is dit die dood? Mag ek dan nooit sy skude vrees nie!
​
Sonsondergang en die Aandster!”
​
​