
#Hy sal bly
Want Geskiedenis is nie net vir oumense nie!

Op 'n lui Sondag oggend in Maart is ons vier vriende in 'n Golf oppad Bloemfontein toe van Heilbron af, waar ons 'n bruilof gaan vier het, toe ons net anderkant Kroonstad op die ingewing van die oomblik besluit om af te draai na die Sandrivier monument. Ons het op 'n oom se plaaswerf omgedraai en besef dat die verwese klipstapel langs die stowwerige paadjie waarby ons verby gery het, die ware Jakob moes wees. 'n Geroeste hekkie en 'n paar dubbeltjies later staan ons by die monumentjie en lees die vaal inskrywing op die brons gedenkplaat.
Vae beelde van vermaerde perde, verslete boere, uitgeteerde vroue en kinders in seepkissies speel in ons gedagtes op en herinner ons aan die bitter smaak van 'n oorlog wat nog skaars bietjie meer as 'n honderd jaar oud is. Tog staan hierdie monument vergete, oorgroei deur bossies en byna onbekend aan self die handjie van ons wat op skool effens meer gesout in diè geskiedenis is.
Net daar besluit ons om soos 'n laerskool bende 'n ooreenkoms aan te gaan en self te sorg dat ons monumente nie verlate en vergete bly nie en daarom daag ons elkeen, wat homself deel ag van ons land se ryk geskiedenis, uit om ons te help.
Hoe?
1. Suid Afrika is besaai met monumente, gedenkstene en tekens. Soek die naaste een aan jou of kyk uit vir een langs die pad as jy en jou vriende besluit om 'n rigting in te slaan opsoek na avonture - "Google Maps" dui hulle ook dikwels aan.
2. Gaan trek 'n bossie of 5 uit die grond uit.
3. Neem 'n foto by die monument - hoe maller hoe beter.
4. Sorg dat jy die woorde "#Hy sal bly" op die foto uitbeeld
5. Laai die foto op die "Facebook" blad of op "Instagram" met #Hysalbly in die foto se beskrywing. - ons sal sorg dat die foto's ook op hierdie webtuiste verskyn.
6. Sorg dat jy 'n kort beskrywingtjie gee van die monument en waar julle hom gekry het - as iemand anders reeds 'n foto opgesit het.. sit nog een op en kyk of hul 'n goeie werk gedoen het met bossies uittrek.
7. Daag jou vriende uit om 'n beter foto by 'n ander monument te neem.
Ons het 'n ryk geskiedenis om op trots te wees, elke monument in hierdie sonskyn land herinner ons aan wie ons is en waar ons vandaan kom.
Gaan soek jou erfenis!